Vir die agtergeblewenis in ons volk. Die waarvan ons vergeet het...
Ek sien eerste die vreemde pienk-pers blommetjies. Iets wat ek nooit vantevore gesien het nie. Dit vou soos twee helfdes van ‘n oester om ‘n wit, melkerige binnekant. Die blomme groei al op ‘n ry oor ‘n opening in ‘n reuse blaremuur.
Ek stap nuuskierig nader na iets wat lyk soos ‘n blarehuis. ‘n Reuse struktuur van rankplante, saamgevleg om ‘n struktuur soortgelyk aan ‘n igloo te vorm.
Dan eers sien ek hom, half verswelg deur die groenigheid, in ‘n ou vervlenterde leunstoel sit.
Sy lang wit baard en saamgekoekte hare wat by ‘n verbleikte blou pet uithang laat hom soos ‘n karakter uit ‘n Dalene Matthee boek lyk. ‘n Vervlenterde blou trui hang slap aan sy maer lyf en om sy nek hang ‘n silwer kruis. Sou hy dit in die aande tussen sy dun, knopperige vingers vasklem terwyl hy dink aan dié wat hom hier agtergelaat het?
Hy sit opgewonde regop toe hy my sien naderstaan.
“Mooi né?” se hy en wys na die blomme.
“Kom, ek wys jou,” en hy wink my met ‘n seningrige vinger nader.
Ek bekyk die skewe draadheining wat sy woning van die ander sink –en houthuisies op die plaas Sonskynhoekie, oppad na Hammanskraal, skei. Die son skyn verblindend op die sinkdakke en hier en daar lê ‘n uitgeteerde brak in die skadu van ‘n boom na vlieë en hap.
Dit is hiér waar menigte siel hul karige besittings kom neerplak het om dít wat hulle nog van die lewe oorhet, te geniet. Hier op ‘n droë stukkie grond waar iemand hulle iewers langs die pad vergeet het.
Hy maak die lendelam hekkie versigtig oop. Dit kraak soos dit ongemaklik oopswaai.
“Ek trust hierdie klomp niks,” sê hy en beduie met sy vinger na die huisies langs syne. “Dis dié dat ek ‘n heining om my property gebou het.”
Ek gee ‘n versigtige tree in die selfgemaakte tuinwoning in. ‘n Draad tuinstel, iets wat ek laas op my ouma se stoep gesien het, staan in die hoek van sy tuintjie. Die geel kussings verbleik deur jare se somers. ‘n Klein klipstandbeeldjie van ‘n kabouter staan net duskant die ingang in die blaremuur. Daar is nog een van ‘n feetjie wat met getuite lippe op ‘n klip sit.
Hy vat sag, amper liefdevol aan die blomme. Hy weet nie wat mens dié blomme noem nie.
Oor die beeldjies wei hy nie uit nie, oor waar hy vandaan kom nog minder…
Vuil wit gesigte loer vanuit houthuise en ‘n paar mense staan selfs nuuskierig nader.
“Kom, kyk my huis.”
Dis koel onder die blaredak en etlike ander beeldtjies van kabouters en padda’s op waterlelies dien as versiering. ‘n Lendelam katel met ‘n ou gestreepte matras, bruingevlek van al die jare se vuil wat nie meer wil uitwas nie, staan skeef op die ongelyke oppervlak van sy woning.
Oor ‘n outydse draadloos blêr Kurt Darren se bekende sokkie-treffer, Kaptein, span die seile.
Ek loop weer uit in die sonlig. Die stof en armoede buite die dun draadheining gryp my van vooraf aan. ‘n Entjie weg is ‘n vrou besig om ‘n paar stukkies klere oor ‘n skeefgespande draad te hang.
“Ek bly al sewe jaar hier,” sê hy en trek sy skouers op. “Dis my huis. Dis die dinge en mense wat ek ken dié. Die ander het al lankal van my vergeet. Wat sal ek nou iewers anders gaan soek?”
Ek bedank hom vir sy gasvryheid en verkyk my vir oulaas aan die klein klip kabouter wat oor die ingang waak.
Ek draai net om toe hy my weer roep.
“O, en meisietjie,” sê hy en wys na my grys All Stars, “ek like jou skoene.”