Search This Blog

Wednesday, June 5, 2013

Op 'n bakkie in Mosambiek

Oppad terug na die Mosambiekse grens ná ‘n idiliese vakansie in Ponta Malangane, kyk ek vir oulaas na die klein rietdak-huisies langs die pad, diep versteek tussen die ruie gras en bome van die Mosambiekse landskap.
Klein kindertjies wat langs die pad speel kyk ons verwonderd aan en ‘n swanger vrou, haar hand op haar lae rug, strompel uit een van die hutte om die kinders terug te roep. My lewe voel wêrelde verwyderd van hulle s’n. Vir hulle bestaan daar nie iets soos tyd nie. Jy staan op as die son opkom word en jy gaan slaap as dit donker is. Tussen-in probeer jou en jou familie aan die lewe hou.

Die Bakkie wat ons grens toe vat word bestuur deur ‘n vriendelike local. Hy vra uit oor ons vakansie en wanneer ons weer terugkom.
Nee, antwoord ons, seker eers weer volgende jaar wanneer dit tyd is vir die jaarlikse musiekfees.
Hy lyk afgehaal. Die mense hier kripeer. Toerisme is hulle enigste bron van inkomste. Met die verkoop van ‘n paar handgemaakte houtbakke, krale en uitgekerfde sluitelhouers kan hulle net-net die wolf by die agterdeur weghou. “We need the tourists, here is no money, no bread, no fokkol,” sê die drywer.


Stalletjies in Ponta Malongane
Ek kyk weer uit na die landskap wat verbyflits soos die bakkie vinnig oor die sand hop. Die paar huisies het verdwyn en al wat oorbly is die wit sandheuwels en yl plantegroei. Dis mooi, maar dit bly niks.
Die yl landskap oppad grens toe
 Die drywer bly sy lewe lank al hier. Dwarsdeur die oorlog wat Mosambiek amper ‘n dekade lank getyster het.
Ek en my vriendin praat in Afrikaans oor die lang uittog huistoe wat vir ons voorlê.
You speak Afrikaans?” vra hy, met die klem op die eerste lettergreep.
“Ek ook ek kan kleeeeeeeeein bietjie prat,” sê hy en wys met sy duim en sy wysvinger, sy aksent swaar.
Hy vertel van die Afrikaans/Engelse woordeboek wat hy het en hoe hy brand om sy woordeskat uit te brei, maar dat hy iemand nodig het om die woorde vir hom te verduidelik.
But I háve to learn Afrikaans, I will fight to learn the language so I can visit your beautiful country. South Africa is such a wonderful country.”

Die prentjie wat hy van ons land skep is een wat ek amper nie herken nie. Ek wil hom vertel van die keer toe ek by die robot met ‘n mes teen my keel beveel is om selfoon oor te handig, of dat twee van ons bure nou die aand wakker geword het met gewapende mans langs hul bed wat vra vir die kluis se sleutels. Ek wil hom vertel van die korrupsie wat stukkie vir stukkie besig is om ons pragtige land op sy knieë te dwing en die boere wat elke aand in vrees met ‘n geweer langs hul bed gaan slaap. Maar ek bly liewer stil. In hierdie oorloggeteisterde land waar die bar grond nie genoeg kos kan lewer om sy eie mense te voed nie, kan Suid-Afrika maar net soos ‘n paradys lyk.

By die grens gekom help hy ons om die bagasie van die bakkie af te laai en groet vriendelik. “See you again soon.” Hy lig sy hoed en ek kyk hoe sy bakkie tussen die stof verdwyn.
Terwyl ons wag om ons paspoorte te laat stempel gee ek my laaste pakkie beskuit vir ‘n swart seuntjie wat langs die pad staan en bedel.