Search This Blog

Monday, November 4, 2013

Vir Volk en Vaderland

Ek wonder of DIT is wat die 23 lede van die Boeremag in gedagte gehad het toe hulle meer as 11 jaar gelede hul aanslag op Mandela se lewe beplan het...
Het die Pretorius-broers dalk minute voor hulle die bom, wat bedoel was om die struggle-reus Mandela om die lewe te bring, geplant het, saam met die res iewers gebid, "Here, seen U uitverkore volk"? Want hoe kon 23 mans dink dat hulle 'n staatsgreep sou kon uitvoer sonder bonatuurlike hulp?
Het hulle in die vroee oggendure, wanneer hulle terugkom van 'n geheime vergadering op 'n ryk boer se plaas, langs warmgeslaapte vroue ingekruip. Het hulle dan in die donker le en luister vir die loei van polisie-sirenes; die Judas-kus...?

Het Pieter van Deventer sy seun en dogter elke oggend gegroet asof vir die laaste keer, en het die 21-jarige Jacques Jordaan ooit besef wat hy besig was om homself voor in te laat? Of was hy maar net ge-brain wash met praatjies van patriotisme, mag en haat? 'n Haat vir dit wat anders is as hy. 'n Haat wat dalk al van kleins af by hom ingedrill is, deur die skool, die regering en die kerk...

Het enigeen van hulle ooit kon dink daar sou 'n tyd kom, 11 jaar later, wat hulle deur 'n wit regter in 'n swart hof veroordeel sou word? 'n Regter met 'n van so Afrikaans soos hulle s'n, en dat hulle weggelei sou word deur swart polisiemanne om 'n leeftyd lank agter tralies oor hul sondes te dink...?
Het hulle gedink oor hoe hul vroue en kinders sou huil, hoe die geween teen die hof se mure sou uitklim? Hoe kinders, half-wees, hul ontstelde ma's sou troos en vroue met opgehewe rooi oe aan mekaar sou klou?      

Het hulle enigsins kon dink dat hulle plan sou faal? Of het hulle nie daaraan gedink nie? Dalk was daar belangriker dinge om hulle oor te kwel. Soos die oorlewing van die Afrikaner Volk. Hulle volk. ONS volk. Dalk was die voortbestaan van 'n klein volkie wat vir jare lank deur die Engelse verdruk is, in die oorlog uitgemoor is en hulself weer van voor af uit die stof moes opbou, belangriker as hul vryheid.

Dalk was dit vir Volk en Vaderland en BASTA met die res!