Search This Blog

Monday, July 16, 2012

STRAB ! ! ! !

Ons is vier baie opgewonde mense in ‘n oorvol gelaaide Volkswagen Polo oppad na wat ons verwag die beste vier dae van ons lewe gaan wees. Vier dae van see, son, sand en STRAB, ‘n musiekfees wat jaarliks in die kusdorpie Malongane in Mosambiek plaasvind.
Nie een van ons (insluitend die drywer) het veel geslaap die vorige aand nie en die lae komberse en kussings wat tussen twee van ons in die agterste sitplek ingedruk moes word kom aanvanklik handig te pas in Ermelo se knersende koue, maar soos ons Pongola nader, begin ek wonder of dit werklik nodig was om ‘n slaapsak, dik kombers en twee kussing saam te bring. Die padwerke vanaf Pietersburg noodsaak ons om elke vyf minute te stop. Om van die rondloper beeste en bokke nie eens te praat nie!
Ek was nog nooit in Pongola nie. Ek het net gehoor dit was eens ‘n florerende deel van die land, met baie ryk boere hulself daar bevind het. Maar wat ek sien is ‘n arm, droë, primitiewe deel van Suid-Afrika, waar klein sink -of kleihuisies, omhein deur stukkies draad, wyd verspreid in die warm son staan en bak. Vrouens en kinders staan met pangas in die veld en bome afkap.
Net toe die hitte, beeste en slaggate te veel raak is ons in Kosiebaai, een van die vele grense tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Ons ry sonder moeite die grenspos in en ek spring opgewonde uit die motor om die derde Mosambiekse stempel in my paspoort te kry. Die man agter die toonbank aan die Mosambiekse kant van die grens is nie baie vriendelik nie en gluur my met afguns aan toe ek my paspoort met ‘n glinlag oor die toonbank skuif. Duidelik is uitlanders nie baie welkom in dié land wat so lank moes sukkel om onafhanklikheid te kry nie.
Terwyl ons wag vir die Landrover wat ons van die grenspos tot in Malangane moet vat (want die klein wit Volkswagen Polo sal dit nooit oor die rowwe sandpaaie maak nie) kyk en na die Mosambiekse vlag wat trots in die ligte bries wapper. ‘n Hammer en ‘n sekel. Bewys van die geweld waarmee die land deur die huidige regering in besit geneem is. Ek ril effens.
Die veelbesproke vlag. Foto: Annika Theron

Met ons bagasie (beddegoed en al) op die Landrover se waentjie gepak, val ons al wippend in die pad. Al vier van ons op ‘n dun hout bankie op die agterste sitplek ingedruk. Die drywer laat hom nie afskrik deur die reuse hoppels in die pad nie en ons loer elke nou en dan beangs na die pakkies op die waentjie. Solank die drank net nie afval nie! Ons raak ook sommer gou bevriend met die mense saam met ons op die bakkie, wat nie tyd gemors het nie en reeds elkeen met ‘n bottel bier in die hand sit.
 Die lansdkap is dor, maar vreemd mooi. Soos ons Malangane nader sien ons groepe skoolkinders opgewonde langs die pad staan en waai. Sommige van hulle gooi duim, ander probeer ‘n houvas op die bakkie kry om ‘n paar meter saam te ry. 
Nader aan die kampterrein lyk dit asof ons deur ‘n vlooimark ry soos selfgemaakte houtstalletjies op ‘n ry langs die pad staan. Hier kan jy enigiets van ‘n lap-broek tot ‘n hout slaaibak koop. Verskeie kralewerk word sommer op komberse uitgestal. Ons ry verby verskeie kroeë langs die pad waar ‘n paar feesgangers reeds uitgespan het en ‘n bottel Mosambiekse rum geniet. (Later word ons ook deel van dié luidrigtige groepie toeriste, alhoewel ons nooit verder as die eerste kroeg kom nie!)   
By die kampterein aangekom help ons eers ons nuwe vriende afpak voor ons ons eie goed uit die bakkie laai. Gelukkig het die res van ons geselskap reeds vroeër kom tent opslaan en kan ons net als neerplak, haastig ons swemklere aanpluk en laat waai strand toe.
Die spierwit sand strek verlate voor ons uit. Dit maak klein suisgeluide wanneer ons ons voete daaroor sleep. Die water is, ten spyte van die hitte en die warm Mosambiekse seestroom, baie kouer as wat ek gedink het. Ek sprei my arms uit en voel die son op my gesig en die wind deur my hare. Ek voel soos ‘n vlieër wat enige oomblik deur die wind opgetel kan word en hoog bo die blougroen water sweef. Vir die eerste keer in maande voel ek vry.

Oppie strand Foto: Annika Theron

Tidlewaves is die aand eerste aan die beurt en ons sit op die strand, elkeen ‘n drankie in die hand, en wieg salig met die soel klanke van dié rusta-band, terwyl die see agter ons druis en duisende sterre helder oor ons koppe vergader. Ek kyk op na die sterrehemel bo ons en kan amper nie gló ek’s op die strand saam met van my beste vriende terwyl ek op die maat van ‘n paar Bob-Marley-treffers wieg. Ek maak my oë toe en dink, die lewe kan net nie beter as dít word nie, want soos ou Bob Marley self gesê het: “don’t wory / about a thing / ‘couse every little thing /  is gonna be all right,”

No comments:

Post a Comment