Search This Blog

Saturday, August 3, 2013

Lot van 'n (on)kreatiewe siel

Ek sit en luister na my gunsteling Valient Swart CD. Die een met Sonvanger op (Maanhare. 2002), en verwens my eie wanvermoë om enigiets half-decent op papier vas te pen.
Idees is daar baie van. Halfwe gedagtes en woorde wat nog gevorm moet word, daaraan is daar geen gebrek nie. Maar die kuns om dit reg uit te druk ontgaan my. Asof daar iewers in my kop 'n kamer is met eindelose poëtiese skatte , maar iemand het die sleutel weggegooi en my pen bly droog.

Hoe graag sou ek ook gehore met my woorde, my diepste geheime en verlange na plekke en mense wat ek nie ken nie wou bekoor. Hoe verlang ek nie om met 'n paar verse 'n emosie so naak en rou vas te pen dat dit gehore uitasem sal laat en my, die skepper, magteloos oor die effek van my skepping.
Om iets van hul menswees aan te raak, iets waarvan hulle dalk self nie eens bewus was nie, en so ook 'n deel van myself bloot te lê.

Johannes Kerkorrel, nog 'n groot insperasie, se gesig staar vanuit die middelblad van een van Beeld se bylaes na my. Tien jaar na sy dood en sy bydraes tot Afrikaanse musiek word nogsteeds gevier. What a legend.
Maar waar laat dit my? Wat het ek om tot die mensdom by te dra? Ek, met my wegholgedagtes en flitse van iets wat dalk die moontlikheid het om potensiaal te toon (As dit enigsins sin maak?). Want dit is daar. Wat ook al DIT is.
Ek ervaar dit elke keer as ek in Pretoria se middestad ry, na die blokke verwaarloosde flats kyk en stories opmaak oor die mense wat daar bly. Ek ruik dit in 'n bosveldvuur of die vars oggendlug nà 'n aand op die plaas. Ek sien dit in die heerlkheid van die sonsopkoms en vind dit in ou vergeelde briewe tussen geliefdes. Ek voel dit in die geweide atmosfeer van 'n ou NG kerk met sy geruite vensters.

Die verlange is daar, die hartseer wat ek my verbeel groot geeste soos Kerkorrel en Koos Dup moes gevoel het. Die blote vermoë om te VOEL.
Maar hoe om dit oor te dra...DIT bly my ontwyk...

No comments:

Post a Comment