Ek het gister tot die omtstellende besef gekom dat dit waaroor ek die afgelope drie jaar droom, wens en hoop dalk niks meer as 'n nostalgiese fantasie is wat dalk nooit bewaardheid sal word nie...
Want sien, baie keer leef 'n mens in die verlede, 'n tyd toe dinge ongekompliseerd en (of so dink jy) gelukkiger was. Jy smag daarna om weer terug te keer na daardie tyd (eerstejaar op universiteit, matriek, 'n blyplek of 'n vorige liefde) met die hoop dat jy weer daardie oomblik van euforie kan vasvang.
Maar wat 'n mens dikwels vergeet is die huidige "jy" nie dieselfde "jy" is wat in daardie tydstip geleef het nie. Die huidige "jy" is meer volwasse, ervare en, gewoonlik, minder onskuldig. Jy klou egter verbete was aan daardie droom en dink "Ek was so gelukkig op universiteit, dalk moet ek weer gaan swot, dit sal soveel lekkerder wees as om te moet werk!" of "Ek moes nooit met my eks uitgemaak het nie! Ons was dan so gelukkig, wat het my tog besiel!"
Die gevolg is 'n geweldige ontnugtering wanneer jy wel weer terugdwaal op jou ou spore en besef dat dinge nooit weer dieselfde kan wees nie, maak nie saak hoe graag jy dit so wil hê nie. Jy sal nooit weer die sorgelose, lawwe student van vroeër kan wees nie en jou skoolliefde het van die skool se hotste rugbyspeler in 'n verantwoordelike sakeman met 'n bles en 'n boep ontaard. Jou hele uitkyk op die lewe het boonop deur die jare verander!
Nog 'n rede hoekom ons so dikwels in die slaggat van nostalgie trap is omdat ons altyd die goeie tye onthou. Want wat ek geleer het is, tyd bring NIE altyd perspektief nie. Ons onthou die veilige, rustige buurt in 'n klein dorpie in die Vrystaat. 'n Oor en weer gekuiery met die bure (so anders as hier in die stad) en Saterdae op die partjie se swaai. Ons onthou nie die gebrek aan behoorlike geleenthede of mediese sorg op die platteland, of die genadelose hitte, stofstorms en besmette water nie.
Ons onthou skelm soentjies op kampus, 'n piekniek op valentynsdag en daardie soete onskuld van 'n eerste liefde.Wat ons vergeet is dat die eerstejaartjie met sterre in haar oë, blind vir al die sondes van die jeug, nou heelwat minder naiëf en goedgelowig is. Maar die belangrikste en seker die mees onderskatte detail; ons vergeet dat sekere dinge nou maar eenmaal nie verander nie.
Dalk moet ons 'n bietjie ons oë oopmaak en besef wat ons nóu het, en ophou hunker na dit wat ons eers gehad het. Dalk moet ons besef dat dinge met 'n rede gebeur en dat die 'hier' en die 'nou' vir ons op die oomblik soveel meer plesier kan verskaf as die verlede. Dalk kyk ons oor 'n paar jaar terug met 'n diep hunkering en verlange na dit wat ons nóu het. Dalk is dit maar net die menslike natuur om altyd ontevrede te wees met wat hy het en na iets meer of beter te soek.
Hoe dit ook al sy, 'n mens het 'n besluit gemaak vir 'n rede, aanbeweeg vir 'n rede, en in die proses onvermeidelik grootgeword.Die kennis en wysheid wat ons intussen opgedoen het kan nie weggevee word nie, 'n stukkie van die vroeë onskuld is verewig verlore.
Vrede