Search This Blog

Sunday, August 19, 2012

Vrouwees sonder die onderlaag en lipstiffie


Om ‘n vrou te wees is nie maklik nie. Vat dit maar van my, en ek is nog nie eens ‘n kwart eeu lank ‘n vrou nie!
Behalwe vir die hormone wat ons gemoed heeltemal deurmekaar krap en maak dat ons soms onredelik en half seniel (ja ek erken dit nou maar) optree, voel ons dis ons plig om eers na almal anders om te sien, voor ons vir onsself sorg, wat dikwels beteken dat ons onsself afskeep.

Stress maak jou siek
Kenners is dit eens die enorme druk wat die samelewing op vandag se vroue plaas, maak hulle meer vatbaar vir geestelike en fisieke siektes.
Jorgan Harris, kliniese sielkundige, meen vroue is onder geweldige druk omdat hulle deesdae tot dieselfde mate as hul mans die broodwinner is en steeds die tradisionele huishoudelike en moederlike take moet verrig. Terwyl manlief van die werk af kan kom, sy skoene uitskop en voor die televisie ontspan, moet die vrou die kos kook, kinders help om hul huiswerk te doen, en al die troeteldiere versorg!

Skuld en depressie
“Ma’s voel boonop skuldig as hulle nie self na hul kinders omsien gedurende die dag nie. Wanneer kinders dan probleme ervaar, voel ma’s meer verantwoordelik en geïmpliseerd as pa’s,” meen Elize Morkel, kliniese sielkundige en berader.
Dié spanning lei gewoonlik tot depressie. Verskeie studie bewys meer vrouens word gedurende hul leeftyd met depressie gediagnoseer as mans. Dié depressie kan boonop die hele huishouding omverwerp.
“As ma heeltyd depressief is, het sy nie belangstelling in haar gesin en kinders se vordering nie,” het Harris gesê. “Sy is stadig en die heeltyd geïriteerd en verskree haar kinders, as sy nog enigsins lus is om hulle te hanteer.”
Daarby lei spanning en hoë stresvlakke ook tot fisieke siektes. Volgens Morkel is dit ‘n nagevorste feit dat die immuunstelsel met depressie en hoë spanning verswak.
“Volgens navorsing is vroue met ’n hoë stresvlak meer geneig tot hoë bloeddruk en diabetes. Daar is ook ’n groter verband tussen stres en kardiovaskulêre siektes by vroue as by mans,” het Harris gesê.
En dan moet ons ook nog spring as manlief net ‘n kuggie gee, want verkoue is mos doodsake! (Dalk sou ons nie 'n probleem met oorbevolking gehad het as mans moes kinders kry nie...)
Vroue moet tyd maak vir ontspanning en oefening, is Morkel se raad. “Gereelde hersiening van jou program kan help dat jy beter prioritiseer en jouself nie oorlaai nie.”
“Ma is en bly die spilpunt waarom die hele geisn draai, haar gesondheid van kardinale belang,” sê Harris.
“CJ Langenhoven het gesê, die beste ding wat ‘n pa vir sy kinders kan doen, is om hul ma lief te hê.”
Hoe waar is dit nie? Mans, kyk mooi na julle vroue. Hê haar lief en laat haar spesiaal voel, al verstaan julle nie altyd hoekom ons skielike, onverstaanbare uitbarstings het, of vir dae lank stilstuipe kry nie. Want wie anders gaan sorg dat die kosblikke gepak is, sus se visse nie vrek van die honger nie en seker maak boet onthou om sy wiskunde boek vir skool in te pak?
Ons ís immers die sement wat keer dat die huis se dak inmekaar val…

No comments:

Post a Comment